My lewe roep: Hy leef!

Wilderniswenke vir vroue - Voorblad

Oor berge en in dale, ja, oral waar die vyand wou steel, het God vir Wanda Bam, sangeres, Kaapse Kansel-omroeper en skrywer van die boek Wilderniswenke vir vroue, gered en alles ten goede laat meewerk. Na ? ernstige motorongeluk, waarin sy sou verkies om dood te gegaan het, het Wanda Bam vir die Here gesê: This is it. Ek gaan nie meer sing nie. Ek gaan nie meer vir Hom werk nie.

Dit is ook in daardie tyd dat die Here vir my kom sê het: “Maar dit is wat Ek nog heeltyd vir jou probeer sê het. As jy uitgebrand is, kan Ek jou nie gebruik nie, want Ek het jou baie liewer as wat Ek jou bediening het!”

Dit was ’n wekroep vir my. Daar besef ek die Here hét my geroep, maar daar is klousules, Skrifbeginsels en riglyne. Jy kan nie God se ritme oortree nie. Jy kan ook nie bedien as jou eie lewe so stukkend is nie.

Was dit die enigste keer dat jy aan selfmoord gedink het?

Jy moet verstaan dat as jy ’n deur vir selfmoord oopmaak, die vyand die geleentheid sien en meer skade aanrig as selfs dit waarvoor jy toestemming gegee het. Jou eie vows kom klop dan ’n paar keer aan jou deur. Dit sal nie net weggaan nie. Jy moet psigies en geestelik die deur toemaak, anders bly dit ’n ope uitnodiging vir die vyand wat jou heeltyd na daardie punt dryf.

Ná my eerste man se selfmoord was die pyn so groot, ek kon nie eet nie, ek kon nie slaap nie, ek kon nie my kinders versorg nie. So, een oggend het ek in my radeloosheid voor die rekenaar gaan sit en vir die Here gesê ek gaan nou die woord healing intik. As Hy enigsins bestaan, as Hy ooit vir my omgegee het, het Hy nou ’n laaste kans. Hierdie keer gaan ek dit deurvoer.

Ek het die woord ingetik en van al die vreemde dinge wat op die skerm kon verskyn, was dit die webtuiste van Ellel Ministries. Wys jou net hoe wonderlik die Here werk, want hulle het toe ’n kasteel waar hulle retreats met die oog op genesing aanbied. Binne ’n paar dae kon ek met die hulp van omgee-pêlle vir wie dit belangrik was dat ek oukei is, ’n vliegkaartjie koop vir ’n healing retreat van sewentien dae. Daar het die Here my regtig geopereer en die pyn uitgehaal en agter my gesit.

Dit is wonderlik dat jy ná al die teenspoed ’n nuwe lewe het.

Ek dink nie ’n mens het ooit ’n nuwe lewe nie. Jy het ’n lewe wat krake het. Ek het ’n lewe waar ek weet waarheen die lewensenergie gegaan het. Maar ek moet baie eerlik sê: ’n Mens kan nie met God onderhandel nie. Jy kan nie jou versorging in ’n liefdelose huwelik van 13 jaar soek as God gesê het Hý sal sorg nie. Ek het reeds as dogtertjie met die Here ’n pad begin stap. Dit was vir my ’n totale uitverkoop wees aan God. Ek het nie partytjies bygewoon of aangejaag nie.

Ek het nie “verdien” om ’n lewe te hê soos wat ek gehad het nie. My lewe was bestem om volmaak te wees. Pastoor se dogter wat met ’n predikant getrou het. Ek sing. Ek is lief vir die Here en ek werk vir Hom. Toe gebeur die lewe. Ek breek stukkend en hurting people hurt other people – ek moes my eie aandeel raaksien. Ongeag hoe onvolmaak my lewe verloop het, was die tydsberekening perfek. Die Here sê in die Skrif: ‘Kyk, Ek maak alles nuut’... en Hy hét.

Hoe het jy ná alles weer jou voete gevind?

My kinders is deel van my opstaan. Ek het twee dogtertjies sien seerkry, twee tieners sien swaarkry, maar hulle het vergewe en weer vergewe. Vandag is hulle twee sterk, karaktervolle vroue en my hart se punt. My opstaan is ook die vroue in wie se oë ek gekyk het al die jare wat ek in die bediening gestaan het.

Dis die rede. Dis die verantwoordelikheid wat ek het omdat ek vir hulle vertel daar is hoop en herstel. Selfmoord sou ’n streep trek deur die hoop waarvan ek gepraat het, die hoop wat ek my dogters gegee het, dat jy kán survive. Ek kies lewe, voluit. My boek, Wilderniswenke vir Vroue, bevat talle stories van val en opstaan, maar ook hoe om op jou voete te bly. Tragedies bring nie hoop nie, dis hoe ek opstaan na die vorige donker nag wat inspireer.

En vandag? Leef jy nou die lewe waaroor jy gedroom het?

Ek is op ’n goeie plek. ’n Lekker plek. Dolgelukkig getroud. Daar is nie ’n perfekte huwelik nie, daar is nie die perfekte man nie – ons moet drie keer so hard werk om onsself op ’n plek te kry waar ons kan sê ons is gelukkig. Máár ons leef in die waarheid. Dit is altyd die hooftema. Ons is beste pêlle en kan vir ure sit en gesels (ek praat en hy luister... net ’n grappie).

En ’n groot ding van ons twee is, ons pyn is heilige grond. Ons trap nie met moddervoete daarop nie. Ons is elkeen deur ons eie seer en die partye wat deel was hiervan, het hulle eie paaie van herstel gestap. Daar is nie spanning, verwyte en “wat as”-vrae nie. My man het twee wonderlike, liewe kinders. My verhouding met my kinders en skoonseuns is sterkter as ooit en ons geniet mekaar in die tye wat ons saam kan wees.

Xerésh, my eerste kleinkind, is vir my die wonderlikste ding wat kon gebeur! Sy is so ’n seëning, ’n simbool van mense wat lewe gekies het. Sy is ’n ou poppie! Die tweede enetjie, ’n seuntjie, is op pad. Melinda, my liefiekind, sien ek gereeld. Sy het pas vir twee weke kom kuier, en ons kon weer lekker lag en tot laatnag gesels.

Melissa, my oudste, liefste meisiekind; ek het net soveel beltyd op my foon ’n maand... en omdat ek haar baie minder sien, praat ek dit alles op met haar! Wanneer ons drie kuier, praat ons almal gelyk. Daar is te veel vreugde wat nog geleef moet word, want daar IS hoop!

Ek ry op die snelweg. Rustig. My hart met stringe episodes en genade vasgewerk aan my mou. Ek het rigting met net een begeerte en dit is om my Heiland te verkondig. En genesing. En hoop. Hópe hoop. Want ek is op ’n goeie plek.

Ek gaan nooit aftree nie; ek gaan werk totdat ek omval! Ek kan oor my kinders ontspan, hulle is op ’n goeie plek.

Sien, daar is ’n Groot Hand. En Hy trek my uit die donker dieptes op en laat my op hoë plekke veilig loop.

Bekendstelling Koop Aanlyn Video Clips Facebook