As Jesus vandag na die aarde sou terugkeer, sou ek waarskynlik besig wees om te jaag soos elke dag. Daar sal agterstallige e-posse op my rekenaar wees, wat al dae lê en wag, waaroor ek grensloos skuldig voel. Ek sal waarskynlik aangekla voel dat ek nog nie my skoonma of my eie liewe moedertjie vandag ‘n lui gegee het nie. Ek sal waarskynlik besig wees om te bestuur en tegelykertyd na my “to-do list” op my selfoon kyk by elke frustrerende, rooi verkeerslig, en besef dat ek nie die teiken gaan maak vir die dag nie.
Ek sal moontlik ongeduldig agter die taxi in die regterbaan ry en besig wees om vir die Vader te vra, om tog aan hierdie krakie in my karakter te werk, terwyl dit net my keuse is wat meer geduld op die pad kan bewerk! Ek sal alweer nie die mooi veld om my sien en die kleurryke blomme of die vlamrooi sonsondergang nie, want ek is oppad na een of ander vergadering oor “Hoe ons Jesus vir die wêreld gaan wees…”
Ek kan dalk selfs besig wees om voor ‘n gehoor te staan en vir hulle te vertel oor hoe goed God vir ons is en dat daar aan Sy liefde geen einde is nie. Dalk sit ek in ‘n koffiewinkel, besig om op my skootrekenaar hierdie kort artikel te skryf. Dalk is ek besig om in die winkel na die spieel voor my te staar en onvergenoegd te voel met wat ek sien voor my. Dalk is ek besig met ‘n gesprek oor ontevredenheid – met die werk, kerk of plek. Ek kan selfs besig wees om met ‘n spoed deur die bad te gly of kruideniersware vir die maand te kry!
Ek sit dalk in die teater of in ‘n lesing of by ‘n dinee waar ek uit my maag lag vir die kwinkslae van Bill Price wat ons duidelik laat ervaar dat God ook ‘n God van humor is. Ek kan besig wees om te huil omdat die lewe so vol seer is met jongmense wat op 18 jarige ouderdom verongeluk of selfmoord pleeg, oor vriendinne wat op 24 jarige ouderdom, kanker kry, oor die man wat smekend by die verkeerslig staan, oor babatjies wat koud in verwerp in die veld opgetel word, oor my vriendin wat nou ‘n weduwee is na geweld hulle ook besoek het.
Ek mag dalk ‘n boek lees oor “Die voorbereiding van die bruid” en konstant myself spieël daarin, om net te besef ek hoop nie ek is onvoorbereid as Hy regtig sou kom nie….Net om helder, duidelik, skielik rondom my ‘n helder lig te ervaar, ‘n oorweldigende teenwoordigheid, ‘n gevoel van veerligtheid, woordeloos, gedagteloos, planloos, missieloos,… en dan, op te kyk, vas in Sy oë, myself hoor sê: “Jeshua, U het gekom… (ek sal nie vra, waarom nou eers?)…ek sal net laag voor Sy voete buig, bly lê, my hande om sy enkels, Hom vasklou en prewel: Here,here ek het U lief, vergewe my my onvermoeë om meer soos U te wees. Heilig is U, verhewe bo alles is U heerlikheid. U is die liefling van my siel, my diepste begeerte, my enigste bron van lewe. ‘n Oomblik sonder U is soos ‘n verlate woestyn met ‘n vuurwind wat verteer.Vat my, my Jesus, vat my.” My wroeging, skuld en pyn oor my lewe sal soos mis voor die son verdwyn en in die stille krag van Sy teenwoordigheid sal ek weet…Ek is syne, ek het tuisgekom!